43-Jaar Reünie

1980 - 2023

Die storie van ons lewens sedert ons Hoërskool Mariental verlaat het aan die einde van 1980

Wow! 'n Fees in hoofletters

'n Reünie wat is 2020 moes plaasvind word deur Covid gekelder, maar in 'n oomblik besef hierdie groep mans en vrouens dat daar iets sterker en dieper is in hul opvoeding... Nee wat ons stel dit sommer net uit tot al die grensposte oop is en die vlaag van onsekerheid gaan stil lê, maar dit was tog 'n lang wag. Vlugte moes gekanselleer en herbespreek word en uiteindelik kon ons reünie steeds voortgaan en het plaasgevind op 28 - 30 April 2023 te Windhoek.

  • Ons vriende kom van orals. Sover as Australië (Chrisna) en Kalifornië (Greg). Ons mis vir Magda wat hierdie keer nie van Kanada af by ons kon aansluit nie.
  • Geen gewone mense nie, net 'n lot wat weer drade wou optel en kuier en in mekaar se wel en wee deel, nee mense het opgedaag om 'n verskil te kom maak vir almal.
  • Die gades het amper lekkerder gekuier as die klasmaats. Vir die gades moes dit baie erg gewees het. Hierdie lot vreemds en jy ken eintlik net jou eie ander helfte en nou moet jy kuier met al die onbekendes, maar jissie het hulle ingeskakel… Ons het groot waardering vir die gades wat vir hierdie reunie kans gesien het. Ons salueer julle en bedank julle.
  • Hier is baie gelag en gekuier. Die gesels het eenvoudig nie opgeraak nie. Ons het weer afgeskop by onthou jy nog… en wat doen jy nou? Hoe het die lewe jou behandel?

Uit die staanspoor was almal gemaklik. Geen styfgeit nie en mens kon nie een persoon merk wat ongemaklik voel nie. Mekaar gegroet soos ou vriende…. Wel ja, party was bietjie “ouer” as ander, so het dit gelyk, maar agter die grys hare het ons mekaar weer herken.

Ons Program

Ons hou dit interessant

Vrydag 28 April 2023

Almal kom groet van 12:00 af. Uit die staanspoor is die atmosfeer gelaai met 'n opgewondenheid en mense wat lag en lekker gesels. Die eerste fotos word op die groep gelaai. Dit lyk dan of daar 'n paar vreemdes by is? Ons het mos net klasmaats genooi, dan nie? Sjoe, het ons so baie verander? Hier is dan net 'n klomp ou mense? Dit lag en gesels soos ons mekaar weer agter die gryshare en baarde ontdek om dieselfde klasmaats van 43 jaar gelede weer raak te sien.

Vrydagaand
Die geleentheid verander in 'n fees. Danie van der Merwe het vir ons die beste spysenier gereël en ons eet heerlik. Behalwe vir die beste spysenier het Karen vir ons die mooiste tafels gedek met die heerlikste versnapperinge op. Vandat ons aangekom het totdat ons vertrek het, het ons kake nie ophou beweeg nie. Hetsy deur te gesels, te eet of net aan die peueselhappies te kou.

Saterdag 29 April 2023

Mense begin sommer vroeg opdaag want niemand wil 'n oomblik mis nie. Selfs die gades is gemaklik en kuier amper lekkerder as die skoolvriende. Middagete word bekroon met heerlike kosse wat by die tafels bedien word. Ons hou net aan en aan. 43 jaar se opvang moet nou in 'n naweek se tyd gedoen word.

Saterdagmiddag
'n Wynproe geleentheid wat niemand gaan vergeet nie. Mense het geskreeu soos hulle lag. Almal het iets hier geleer oor wyn en hulself. Die wynproe is afgesluit met 'n topgehalte rooiwyn wat net beskryf kan word as: 'n Lieflike rooiwyn met 'n besondere ondertoon van Tobasco, ryklik geseen met chilli inspirasie. Die gehoorsames onder ons wat geluister het na: “Swirl” die wyn goed en vat 'n groot sluk…. Wel hierdie keer het hulle regtig die wyn uitgespoeg. Hierdie besonder wyn het nie 'n “vote of confidence” gekry nie.

Saterdagaand
Ons geniet 'n lambraai uit die boonste rakke. Die Suid-Afrikaners wat nie meer lam gewoond is nie, eet dat hul gesigte blink van die vet. 'n Afslaer word gekies uit die gehoor om die wyne wat oorgebly het op te veil ten bate van welwillendheid vir 'n vriend. Die bod val op Eduard, Glauda se man, om as afslaer op te tree. Eduard kwyt homself so goed van die taak dat ons later begin glo dit is sy voltydse werk, intussen is dit die eerste keer wat hy sy hand aan afslaer sit. 'n Rekordbedrag wat 'n bo verwagte verskil gaan maak, word ingesamel. Duisend dankies aan almal wat hul harte - nee - beursies oopgemaak het. Ons moet begin groet, want almal gaan nie Sondagoggend se diens kan bywoon nie. Daar is so 'n ietwat van 'n gedempte atmosfeer.

Sondag 30 April 2023

Sondagoggend sluit ons met 'n diens af. Omtrent al die gaste daag op. Thinus Byleveld lei die diens met 'n boodskap wat so gepas is vir vandag se tyd. Ons groet en almal vertrek - tot weersiens. Die vraag bly, gaan ek jou weer sien? Gaan ons mekaar weer sien? Ons hoop so. Mag elkeen se pad voorentoe geseend wees.

Wat het ons berreik

Reünies het groter waarde as om net te kom hoor wie is slimmer, ryker of beter as jy. Vir ons, was hierdie reünie meer 'n waardetoevoeging vir ander en om te vertrek as 'n beter persoon.

Wat opgedaag het. Van ons vriende het van sover as Australië en Kalifornië gereis om die geleentheid by te woon.

Die N$ waarde ingesamel om 'n verskil te maak vir maats met groot behoefte.

Mense by kerkdiens om verreik en gevul te vertrek.

Dae van kuier sonder einde. Mense wou nie vertrek nie.